
Carin Spaargaren: Haar toewyding lei tot eer as Skoolhoof van die Jaar
June 1, 2026
Miné de Klerk verdien Golden Globes Senior Sportster van die Jaar
June 1, 2026Mia Vorster: Junior Sportster van die Jaar blink uit in verskeie sportsoorte
Mia Vorster. (Foto: Verskaf)
Goudveld-Hoërskool se Mia Vorster (13) bewys dat talent, deursettingsvermoë en passie ’n wenkombinasie is. Hierdie veelsydige jong sportster – bekroon as GoldFM se Golden Globes Junior Sportster van die Jaar – blink uit in hokkie, swem, netbal en tweekamp.
“Die gevoel om die toekenning te ontvang, is ongelooflik. Ek was baie verras en dankbaar toe ek my naam hoor,” vertel sy.
Volgens Mia beteken die toekenning baie vir haar, aangesien dit erkenning gee aan wat sy inploeg. “Dit beteken vir my baie dat my harde werk, deursettingsvermoë en ure se oefening raakgesien en erken word. Dit motiveer my ook om nog harder te werk,” sê sy.
Sy speel vir haar skool se o.14A-hokkiespan en is vir die Noord-Vrystaat Rhino Week-span gekies. Sy beskou dit as ‘n hoogtepunt in haar jong sportloopbaan. “Om die Noord Vrystaat Rhino-hokkiespan te haal en as Junior Sportster van die Jaar by GoldFM aangewys te word, was ongelooflik.” Sy is ook ‘n blits in die water – sy is onlangs as Beste Junior Dogter van Welkom Aquatics se swemklub aangewys.
Agter haar sukses lê baie opoffering en toewyding. Mia bestee byna elke dag aan oefeninge, wedstryde en voorbereiding. Sy vertel dat sy soms selfs op Sondae moet swem omdat haar weke so besig is.
Behalwe vir sport, het sy ook ’n groot liefde vir diere. Sy waardeer sy die ondersteuning van haar familie, afrigters en vriende. “Sonder die ondersteuning van my familie, veral my ma Janie, ouma Fran, oupa Vossie en oom Riaan, sou ek dit nie kon doen nie,” sê sy. Mia sluit af met ’n boodskap aan ander jong sportlui: “Moet nooit opgee nie, al raak dit moeilik. Werk hard, glo in jouself en geniet wat jy doen. Sukses kom nie oornag nie.”
Deur Estelle Dansey













