
Judokas beïndruk met sterk vertonings
April 2, 2026
Carin Spaargaren: Haar toewyding lei tot eer as Skoolhoof van die Jaar
June 1, 2026Met haar opgewekte glimlag en vriendelike geaardheid vertel Bianca Britz dat GoldFM se Golden Globes-toekenning as Verpleegster van die Jaar meer as net ’n eerbewys is – dit is erkenning vir jare se harde werk, opoffering en onvoorwaardelike diens aan ander.
“Dit was ’n baie nederige oomblik. Om erkenning te ontvang vir iets waarvoor ek so passievol is, beteken ongelooflik baie,” sê sy met haar kenmerkende nederigheid.
Bianca, ‘n gekwalifiseerde verpleegkundige, dalk beter as “Suster Bianca” in hospitaalgange bekend, is reeds vyf jaar lank in die verpleegberoep. Haar liefde vir verpleging het reeds van kleins af begin. “Ek wou nog altyd mense help en ’n verskil maak, veral wanneer hulle deur moeilike tye gaan.”
Sy is bekend vir haar deernis, toewyding en professionele werk-etiek. Volgens haar is verpleging veel meer as net ’n beroep – dit is ’n roeping. “Elke dag bring nuwe uitdagings, maar ook geleenthede om hoop, ondersteuning en sorg aan pasiënte en hul families te bied.”
Sy erken dat die werk emosioneel veeleisend kan wees. Lang ure, moeilike skofte en die verlies van pasiënte met wie sy ’n band opgebou het, bly van die grootste uitdagings. “Daar is dae wat jou emosioneel uitput, veral wanneer families swaarkry of wanneer jy nie iemand se lewe kan red nie.”
Tog bly die dankbaarheid van pasiënte, die herstel van iemand wat ernstig siek was en die wete dat sy vertroosting kon bring wanneer dit die nodigste was, haar grootste beloning. Dit motiveer haar om elke dag aan te hou.
Bianca sê haar familie en vriende is haar steunpilare. “Hulle ondersteun my deur alles en herinner my altyd waarom ek hierdie werk doen.” Wanneer sy nie werk nie, geniet sy fietsry, draf en gehaltetyd saam met geliefdes en vriende.
Deur Estelle Dansey













