
Spanboudag kweek beter samewerking
March 4, 2026
Teen swimmer Chris Savvas impresses at Midmar Mile
March 4, 2026Sakeliga-rolbaltoernooi in Welkom bring sakelui met sukses byeen
Diè manne is van Konica Minolta. L-R: Divan von Gericke, Pieter Theunissen en Frans Wessels. (Foto: Verskaf)
Werknemers van verskeie van Welkom se bekendste sakeondernemings het aan ‘n suksesvolle sakeliga-rolbal-toernooi by Rovers-rolbalklub in Welkom deelgeneem.
Vir die meeste van die spelers was dit die eerste keer dat hulle ‘n rolbal hanteer het. Die gogga het egter gebyt en talle wil nou rolbal begin speel.
Frik Kleinhans, die afgelope twee jaar voorsitter van Rovers-rolbalklub, sê dit was Frans Wessels van Konica Minolta wat met die idee vorendag gekom het.
Die oogmerk was dat werknemers van verskeie sake-ondernemings kragte meet en mekaar beter leer ken.
“Een van die voorwaardes was dat daar in elke span net een speler mag wees wat rolbal kon speel. Die ander spanlede moes amateurs wees.”
Rovers het rolballe beskikbaar gehad en die spelers kon kies met watter balle hulle wou speel. “Die spelers het mekaar leer ken en nuwe vriende is gemaak. Daar was baie pret en ons het heerlik saam gekuier.”
Die spanne het op Woensdagaande om 18:00 by Rovers bymekaar gekom en kragte gemeet. Na afloop van die wedstryde is saam gekuier en geëet. Daarby is vriendskapbande gebou.
Die wedstryde is oor vier weke gespeel. Die span van Konica Minolta het as die wenners uit die stryd getree.
Frik sê die gedagte was ook om Rovers-rolbalklub meer bekend te stel. Hy belowe hulle gaan beslis weer sulke toernooie reël, maar ander rolbalklubs sal ook eers die geleentheid kry om soortgelyke toernooie te reël
Deur Molly Green













