
Gouties bring landbou van plaas tot agterplaas met nuwe tegnologie
April 2, 2026
Micaela Sardinha: Emerging marine scientist from the heart of the Free State
April 2, 2026‘n Boom val in die Goudveld: Huldeblyk aan dr. Johan van Wyk
Wyle dr. Johan van Wyk en sy vrou, Lizbé, (Foto: Verskaf)
“‘n Boom het in die Goudveld geval.” Só beskryf Maryke Greyling van Odendaalsrus die afsterwe van dr. Johan van Wyk, ‘n geliefde leraar en berader wat diep spore in die gemeenskap getrap het. Volgens haar het hy soos ‘n skuilplek vir “afvlerk-voëls”, mense gehelp om weer heel te word. “Ek het voor hom groot geword; hy was deel van al die groot oomblikke in my lewe,” sê sy.
Dr. Van Wyk is in 1953 in Greytown, KwaZulu-Natal gebore en het sy teologiese studies in 1978 aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Hy het sy bediening in Clocolan begin en in 1982 ‘n beroep na die NG-gemeente Oos in Odendaalsrus aanvaar. In 1990 het hy sy doktorsgraad in teologie verwerf, en later ook as ‘n pastorale sielkundige gekwalifiseer.
Hy word oorleef deur sy vrou, Lizbé, 4 kinders en 5 kleinkinders. Sy kinders, Jacques, Marconette, Jean-Mari en Nelius onthou dat hulle altyd hul pa met “die mense in die studeerkamer” moes deel.
Andrea Erasmus van Odendaalsrus was een van daardie mense. Sy onthou hoe sy na haar egskeiding in 1996 in sy studeerkamer beland het. “Ek was stukkend, maar hy was soos ‘n groot rustige teddiebeer wat kalmte uitgestraal het. Dit was die eerste van baie besoeke deur die jare en ek het altyd ‘n beter mens daar uitgestap.”
Sy kinders onthou ook sy gunsteling gesegde: “Ek kan. Ek wil. Ek sal.” En sy raad aan hulle? “Moet nooit vir my jok nie. As jy die waarheid praat, kan ek jou beskerm.”
Sy liefde vir mense was sigbaar in klein oomblikke, soos die dag toe ‘n kleuter onder gebed op die preekstoel geklim, en hy haar ná “amen” rustig in sy arms vasgehou het.
(Berig deur Alta Breedt)













