
Duan is ‘n legende in sy eie tyd
April 2, 2026
Christine Steenekamp: 100 Parkruns, 100 Lessons in Life
April 2, 2026Parkrun-passie bring 100ste-mylpaal en wêreldstatus vir Betsie en Mike
Betsie en Mike Currin. (Foto: Verskaf)
Betsie en Mike Currin van Welkom spog met die gesogte Tourist Parkrun-mylpaal. Nie alleen het hulle onlangs hul 100ste Parkrun in Welkom voltooi nie, maar ook 19 ander in Suid-Afrika, een in Duitsland en drie in Australië. Tog bly Welkom Parkrun hul gunsteling. “Dit is die beste georganiseerde Parkrun, met die meeste gees, sê Mike.
Hul kinders en kleinkinders is baie trots oor hul 100ste Parkrun. “Die tye wat ons dit saam as familie kan doen, is vir ons baie spesiaal,” voeg Betsie by.
“Ons het die eerste keer van Parkrun by ons dogter, Candice, in Australië gehoor,” vertel Betsie. Mike, wat nog altyd ’n passie vir hardloop gehad het, het saam met haar en Candice hul eerste Parkrun in Johannesburg voltooi.
Selfs Betsie se pa, Dries (83), het by hulle aangesluit. Vir Betsie en Mike is Parkrun nie net oefening nie, maar ’n manier om gesond te bly; sielskos en tyd saam.
Verskeie Parkruns het besondere betekenis gehad. “Een in Duitsland saam met ons seun Wesley, een in Australië saam met Candice, en natuurlik die Parkrun op ons troudag, 4 Augustus 2018,” vertel Betsie met ’n glimlag. Mike onthou ook Hakerville in 2017, toe hy ná die Parkrun vir Betsie verras het met ’n tandem‑valskermsprong en ’n huweliksaansoek.
Nie elke Parkrun was maklik nie. “Westville in Pinetown was beslis die moeilikste,” sê Mike. “Ons het mekaar behoorlik gedra tydens daardie roete.”
Vir Betsie en Mike is Parkrun ’n simbool van spanwerk, geduld en humor. Hulle glo dat Parkrun hul verhouding versterk het en hulle geleer het om elke avontuur saam aan te pak.
Welkom Parkrun begin elke Saterdag om 08:00 by St Dominic’s College, Welkom. Registrasie is op Parkrun SA beskikbaar, of deelnemers kan net opdaag. ‘n Parkrun‑toep is ook beskikbaar.
(Berig deur Lien Fouchè)













