
Micaela Sardinha: Emerging marine scientist from the heart of the Free State
April 2, 2026
The Power of One: How passion fuels community impact
April 2, 2026Egpaar verlaat Goudveld na meer as sewe dekades
Johan en Kowie Oosthuizen. (Foto: Molly Green)
Twee van die eerste inwoners van Welkom, wat hulle merk op verskeie terreine van die samelewing gemaak het, verlaat Welkom na meer as sewentig jaar. Johan (81) en Kowie (71) Oosthuizen gaan die Goudveld vir Lichtenburg verruil. Hulle glo hulle sal daar net so gelukkig wees.
Johan was vir baie jare in die mynbedryf. Hy het as monsternemer begin en was ‘n mynkaptein tot aftrede. Hy was ook ‘n kampioenbokser en ‘n goeie rugbyspeler.
Dié man wie se hande vir niks verkeerd staan nie, het in 1953 ‘n Welkomiet geword toe sy pa, Felix, by Pres. Brand-goudmyn begin werk het.
Johan was ‘n leerling van Welkom Volkskool. Hy was twee jaar by Welkom-Gimnasium en is toe HTS Welkom toe. Hy het later vir 30 jaar by FSG-goudmyn gewerk. Nadat hy in 1995 afgetree het, het hy vir kontrakeurs gewerk.
In 1958 het die boksgogga gebyt. Die volgende jaar het hy ‘n Vrystaat-titel gewen. Hy was ‘n vlieg- en kapokgewigbokser. Hy het sy eie boksklub gehad en twee Springbokke afgerig.
Kowie het in 1954 ‘n Welkomiet geword. Sy en Johan het mekaar as kinders ontmoet. Toe hy haar die eerste keer gesien het, het hy gesê: ”Jy moet mooi groot word, sodat ek jou beter kan leer ken.”
Die egpaar is in Westonaria getroud en het drie dogters, Helena (52), Marie (50) en Jacoline (46). Hulle sal by Jacoline in Lichtenburg bly.
Kowie is verlam nà ‘n rugoperasie en Johan help met haar versorging. Sy was hoofsaaklik ‘n tuisteskepper en was vir 21 jaar toesighouer by eindeksamens. Sy was ook vir jare tesourier van Welkom VLU.
Johan het self sy tuin in stand gehou en Kowie doen handwerk. Hy wil so gou as moontlik ‘n groentetuin in Lichtenburg begin. “Ons het Welkom sien groei en is hartseer oor die verval, maar ons gaan Welkom en sy mense mis.”
(Berig deur Molly Green)













