
SA Rugby vereer oud-Griffon Qamani Andrew Kota
April 2, 2026
Duan is ‘n legende in sy eie tyd
April 2, 2026Die oud-Goutie, Miné de Klerk (22), is een van die beste gewigstoot-atlete wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Sy is huidig vyfde op die ranglys van die NCAA (National Collegrated Athletics Association). Die NCAA reguleer atletiek by meer as 1 100 onderwysinstansies in die VSA en Kanada.
Miné het onlangs ‘n silwer medalje tydens die “Big Ten Indoor Championships” wat in Indianapolis, Indiana gehou is, gewen. “Die kompetisie was baie sterk en is een van die bestes in Amerika, sê sy.
Miné se reuse gooi van 18.48m is haar beste ooit. Dit is ook ‘n nuwe binnenshuise SA-rekord. Dit is 11cm beter as haar vorige beste gooi van 18,37m.
“My harde werk is besig om beloon te word. Ek dink dit is net die begin van wat ek weet ek kan stoot.”
Sy sê haar huidige afrigter is baie geduldig met haar. “Die draai voor ek gooi vat nogal lank om baas te raak, maar ek is besig om daaraan gewoond te raak. Ek dink ek is op die regte pad.”
Oor haar toekomsplanne sê sy: “Vanjaar wil ek na die Commonwealth Games in Skotland toe gaan. Die feit dat die Here my met my talent in atletiek geseën het, is meer as genoeg motivering vir my. Oor vyf jaar hoop ek om aan nog ‘n Olimpiese Spele deel te neem. Ek hoop ook om my meestergraad in Mei vanjaar te behaal.”
Miné, wat in Welkom groot geword het, werk baie hard. “Ek oefen vier maal ‘n week en is drie keer ‘n week in die gimnasium. Op rusdae doen ons gewoonlik joga of net ‘n “shake-out” Ek het twee klasse ‘n week wat ek moet bywoon.”
(Berig deur Molly Green)













