
ANCO-ultramarathon sorg vir skitter-wentye
March 4, 2026
Berdine Beukes: Kreatiwiteit sonder grense
April 2, 2026Bronville-blits Maputswa vinnigste meisie-atleet (o.12) in die Vrystaat
Maputswa Mofokeng en Shamila Louw. (Foto: Verskaf)
Maputswa Mofokeng is ’n ware blits op die atletiekbaan. Diè Graad 6-leerling van Golden Park Primêre Skool in Bronville laat haar teenstanders gereeld in die stof byt.
Volgens die tye wat sy hardloop, is sy huidig die vinnigste o.12-laerskoolmeisie-atleet in die Vrystaat. Tydens die Vrystaatse byeenkoms het sy die 100m in 13.33 sekondes en die 150m in 20.32 sekondes voltooi.
Maputswa het haar Vrystaat-kleure verwerf en berei nou voor vir die SA-laerskole-byeenkoms wat van 19 tot 21 Maart in Kaapstad gehou word.
Sy was onoorwonne tydens die Sone-byeenkoms waar sy 14.03 in die 100m en 20.78 in die 150m gehardloop het. Daarna het sy al sterker vertonings gelewer.
Tydens die Lejweleputswa-byeenkoms het sy 13.68 in die 100m en 20.84 in die 150m aangeteken. Sy het weer haar staal tydens die Noord-Vrystaatse byeenkoms gewys met tye van 13.33 in die 100m en 20.32 in die 150m.
By haar op die foto is haar trotse afrigter, Shamila Louw. Willem Visagie is die atletiekspan se spanbestuurder. – Petra de Blom













