
Miné de Klerk verdien Golden Globes Senior Sportster van die Jaar
June 1, 2026
Roxy Siebert: ‘n onderwyser en skitter-sportleier van formaat
June 1, 2026Rihane Liebenberg: Skolier van die Jaar se sukses te danke aan opoffering
Rihane Liebenberg. (Foto: Verskaf)
Rihane Liebenberg, ‘n leerder aan Goudveld-Hoërskool, is ‘n provinsiale hokkiespeler met ‘n blink toekoms wat reeds op internasionale velde gespeel het en ‘n skeidregterskursus geslaag het. Haar naam het vanjaar helder geskitter toe sy as Skolier van die Jaar tydens GoldFM se Golden Globes aangewys is – ‘n eer wat volgens haar heeltemal onverwags maar baie spesiaal was.
“Dit beteken baie dat my harde werk raakgesien word,” sê sy.
Rihane het reeds op internasionale hokkievelde haar staal gewys. Sy speel reeds sedert die ouderdom van sewe jaar hokkie en het Lejweleputswa op laerskoolvlak verteenwoordig, voordat sy van 2022 tot 2025 vir Noord-Vrystaat uitgedraf het.
Sy het ook in 2022 die gesogte ECHS Hokkieskool in Nederland bygewoon en is vanjaar vir die SA Rhino-span gekies wat in Italië deelgeneem het. Sy het in 2025 as ’n gekwalifiseerde Vlak O-skeidsregter gekwalifiseer.
Agter die sukses lê egter baie opoffering en deursettingsvermoë. Laat nagte en ure se oefening is deel van haar daaglikse roetine. “Gelukkig was en is my ma, Rina, my grootste ondersteuner en steunpilaar. Sy ondersteun my deur alles.”
Wanneer dit by motivering kom, put sy haar inspirasie uit die mense rondom haar. Haar liefde vir haar span, skool en familie dryf haar om altyd haar beste te gee. “Wanneer ek ‘n doelwit het, sal ek nie stop voordat ek dit bereik het nie. Die eindresultaat maak al die harde werk die moeite werd.”
Haar spesiale boodskap aan jong sportlui en die gemeenskap: “Ek wil vir almal sê dat harde werk wel beloon word. Dankie aan elke mens vir hul ondersteuning, aanmoediging en luisterende oor. Dankie aan elkeen langs die hokkieveld, elkeen wat my prestasies saam met my vier en trots is op my. Sonder julle sou ek dit nie kon doen nie.”
Deur Estelle Dansey













