
Rihane Liebenberg: Skolier van die Jaar se sukses te danke aan opoffering
June 1, 2026Roxy Siebert: ‘n onderwyser en skitter-sportleier van formaat
Roxy Siebert. (Foto: Verskaf)
Dit was vir Roxy Siebert ‘n verrassing en ‘n voorreg om as Gold FM se Golden Globes Onderwyser van die Jaar aangewys te word. “Dit was vir my ‘n eer om die toekenning te ontvang. Dit is harde werk wat beloon is.”
Sy glo onderwys is nie iets wat net in die klaskamer gebeur nie, maar ook op die sportveld. “Kinders leer waardes wat hulle vir die res van hul lewens dra.”
Roxy is al vir 17 jaar ‘n onderwyser by Goudveld-Hoërskool in Welkom. Sy is vakhoof van Tegnologie vir Graad 8 en 9. Sy gee ook Landbou en Ingenieursgrafika-ontwerp (IGO).
Roxy is veral bekend as ‘n sportvrou in murg en been. “Sport is vir my ‘n verlengstuk van opvoeding.”
Sy is al vir tien jaar hoof van hokkie by die skool en rig die eerste meisiehokkiespan al twaalf jaar af.
Gouties se eerste hokkiespan is al vir die afgelope nege jaar die ligawenners. “Belangriker as trofeë is egter die tipe mens wat die spelers word: dissipline, respek en spanwerk.”
Roxy is ondervoorsitter van die Noord-Vrystaatse Hokkiekomitee en het Noord-Vrystaat se o.18-B-, o.16- en o.14-hokkiespanne afgerig. Sy is ook ’n VSAAV Vlak 3 spiesgooi-afrigter en Vrystaat se span-afrigter by SA’s. Met 17 jaar se ervaring het sy verskeie SA-atlete ontwikkel.
“My doel is nie net om kampioene te bou nie, maar jongmense wat deursettingsvermoë, harde werk en karakter uitleef. My passie is om kinders te help om in hulself te glo en om hul vir die toekoms toe te rus. Of dit nou in die tegnologieklas is, op die hokkieveld, of die atletiekbaan, elke leerder moet weet iemand sien sy of haar potensiaal raak. Onderwys en sport gee vir my die geleentheid om nie net prestasie te bou nie, maar om mense te vorm.”
Deur Molly Green













