
Noleen Ririe moved to Bloemfontein after 58 years in Welkom
December 27, 2025
Hoe om ‘n lewe te lei wat God behaag
December 27, 2025Vir baie jare het Solveigh Prinsloo en haar seun, Aj, in Odendaalsrus in die skadu van gesinsgeweld geleef. Vandag, met die oortreder uiteindelik agter tralies, kan hulle weer asemhaal – en hulle kies om hul verhaal te deel in die hoop dat dit ander in soortgelyke omstandighede moed sal gee.
Nadat die oortreder toegesluit is, kon beide Solveigh en Aj vir die eerste keer die reis van heling aandurf. Dit was nie net ’n proses van fisiese herstel nie, maar ook van dieper emosionele en sielkundige wonde – ’n lang, moeilike, maar heilige pad wat hulle met geloof, gebed, terapie en ondersteuning betree het.
Aj vertel: “Toe ek die pad na herstel begin loop, het baie ander aspekte van my lewe ook in plek geval. Ek kon stukkies optel van ’n legkaart waarvan ek nie eens geweet het dit gebreek was nie. Ek is nie net verlos van vrees nie – ek kon ook al my oorlewingsmeganismes soos drank en sigarette los. Gereelde psigiatriese hulp het my emosionele letsels begin heel. Ek werk daagliks aan myself en weet die pad is lank, maar ek is bereid om die tyd en moeite te spandeer.”
Solveigh bevestig: “Dit was ’n hartseer pad, maar een vol moed. Ek moes sterk wees – vir myself én vir my kind. Ek moes elke dag die stukkies optel, maar met geloof en volharding het dit elke dag makliker geword.” Sy vertel dat musiek ’n groot bron van troos was. Die woorde “I’m a little bit hurt, but a lot more free” het soos ’n lig gebly brand deur die donker dae.
Vir beide moeder en seun het die keerpunt op dieselfde dag gekom – die dag toe hulle besluit het: “Nooit weer nie.” Solveigh onthou: “Toe ons besluit het ‘nooit weer nie’, en alles aan God oorgegee het, het ons ’n wesenlike verskil in ons gemoedsrus ervaar. Ons kon weer soggens opstaan ná ’n goeie nagrus omdat vrees nie meer saamgeslaap het nie.” Aj voeg by: “Ons persoonlike items het nie meer verdwyn nie. Ons het nie meer in ’n tronk gebly waar alles weggesteek of gesluit moes word nie.”
Vir Aj was die klein oorwinnings die duidelikste tekens van herstel: “Toe ek besef ek kan die drank en sigarette los, en weer normaal praat, het ek geweet ek is op pad na herstel.” Vir Solveigh was die grootste oorwinning om weer vry in haar eie huis te beweeg: “Om nie meer konstant angs en spanning te voel nie was ’n enorme verligting. Selfs eenvoudige dinge soos om ons eie besluite te kan neem sonder vrees, het soos nuwe asem gevoel.” Hulle vertel met glinsterende, hoopvolle oë van die vreugde wat in hierdie klein oorwinnings lê.
Moeder en seun beklemtoon dat hulle nie alleen gestaan het nie. “Ons was mekaar se sterkste ondersteuning,” sê hulle, “maar ons het ook ongelooflike ondersteuning uit die gemeenskap van Odendaalsrus gekry. Daar is te veel name om op te noem, maar hulle weet wie hulle is.”
Deur hierdie pad het Solveigh ’n nuwe beeld van haarself ontdek: “Ek het besef ek is sterker as wat ek ooit gedink het. Die persoon wat jare lank probeer het om my te breek, het nie geslaag nie. Ek het sterker uit die puin gekom.” Aj se selfbeeld het eweneens herstel en gegroei: “Ek het besef ek kan verander. Ek het die keuse gemaak om die mishandeling aan te meld, my lewe in my eie hande te neem, en die drank en sigarette te los. Ek kan opstaan vir dit waarvoor ek omgee – sonder vrees.”
Aj en Solveigh wil graag hierdie woorde vir almal laat hoor wat tans in die stilte ly:
“Jy is nie alleen nie. Jou stem maak saak. Jý maak saak. Daar is hulp daar buite – jy moet net die eerste stap neem. Jy is sterker as jou trauma. Daar is lewe ná die seer.
Daar is hoop ná die trauma. En bowenal – jy is dit werd.”
(Deur Estelle Dansey)













