
Jamie Engelbrecht ‘n briljante legkaart-bouer ondanks Downsindroom
March 4, 2026
Lied oor gevalle bevelvoerder laat die Vrystaat en Rusland saamsing
March 4, 2026Ons leef in ’n tegnologiese era waar kunsmatige intelligensie (KI) toenemend deel van ons daaglikse lewe word. Van skooltake tot projekbestuur – KI kan byna enigiets doen. Maar is dit ’n vriend of ’n vyand? Uplift Media News het met drie mense uit verskillende loopbane oor hul sienings gesels.
Laurika Steenkamp, ’n kontrak- en administratiewe bestuurder van beroep, beskryf dit as ’n assistent wat help met e-posse, navorsing, bemarkingsmateriaal en beplanning. “Take wat ure sou geneem het, vat nou minute,” sê sy. Dit gee haar meer tyd om produktief te wees. Sy waarsku egter dat KI verantwoordelik gebruik moet word. “Ek sal besighede aanraai om KI te implementeer, maar hul werknemers op te lei om dit verantwoordelik en konstruktief te gebruik. KI is ’n hulpmiddel – dit moet nie mense vervang nie.”
Bianca Scott, wat ’n nasorg- en tuisonderrigsentrum in Welkom bedryf, deel ’n ander perspektief: “KI het beslis ’n invloed op hoe kinders vandag hul huiswerk en take aanpak. Baie sien KI as ’n maklike uitweg en neem ’n kortpad. Die probleem is dat probleemoplossing, kritiese denke en selfvertroue negatief beïnvloed kan word wanneer KI nie reg gebruik word nie.”
“Ek gebruik dit glad nie in my sentrum nie en fokus eerder op selfstandige ontwikkeling van denke. Skole kan KI nie ignoreer nie en leerders sal geleer moet word om dit verantwoordelik te gebruik. Hulle moet verstaan dat dit slegs ’n hulpmiddel is, nie ’n kortpad nie.”
Petra de Blom, ’n oud-verslaggewer, is meer uitgesproke. “Nee. Net nee. KI kan dalk help met perfekte Engels, maar dit lol met Afrikaans en sy eiesoortige, idiomatiese struktuur. ’n Verslaggewer is op vele vlakke aanspreeklik vir wat gepubliseer word. Persoonlike kontak, kreatiewe denke en persoonlike styl bly uniek. KI kan dit nie naboots of vervang nie.”
Deur Estelle Dansey













