
Carina en Jacques: Van kalwerliefde tot regskleed en kansel
March 4, 2026
Visuele vaardigheid oorkom uitdagings by mense met Downsindroom
March 4, 2026Morné van Wyk – Duchenne Spier-distrofie keer hom nie
Jacques en Morné van Wyk. (Foto: Verskaf)
Duchenne Spierdistrofie is ’n seldsame, ongeneeslike spiersiekte wat kinders se lewens ingrypend verander.
Uplift Media News het met Morné van Wyk (11) van Odendaalsrus en sy pa, Jacques, gesels oor hul pad met dié siekte – ’n pad van uitdagings, maar ook van hoop en vasberadenheid.
Uit ’n pa se oogpunt vertel Jacques: “Ons lewens het ‘n bietjie meer as ses jaar gelede onherroeplik verander. Maar ons het besluit ons gaan nie lê nie.”
“Dag vir dag, struikelblok vir struikelblok, pak ek en my seun dit saam aan. Ons wil nie hê mense moet ons jammer kry nie – dit is die pad wat vir ons uitgelê is.”
Morné beskou homself as ‘n gewone seun met groot drome en ’n liefde vir sport. “Ek is net ’n seun wat baie van sport hou – veral krieket. Wanneer ek nie seer het of moeg is nie, lag en gesels ek graag, en kyk ek saam met my pappa sport.”
“Soms raak dinge moeilik wanneer ek my maats sien speel en onthou ek kan nie meer saam met hulle hardloop nie. Maar dan hoor ek Pappa se woorde: ‘Jy is genoeg. Jy is God se seun en jy is uniek.’ En dan kan ek weer glimlag.”
Morné beskryf sy pa as sy held: “My pappa gee nooit op nie, en hy het my geleer om ook nooit op te gee nie.”
Hoewel sommige mense onseker is en wegkyk wanneer hulle hom in sy rolstoel sien, het Morné ’n eenvoudige boodskap: “Moenie my jammer kry nie. Wees net lief vir my.”
Hierdie pa-en-seun se storie is een van moed, geloof en deursettings-vermoë. Duchenne Spierdistrofie mag uitdagings bring, maar dit bepaal nie wie Morné is nie. Hy bly ’n seun met ’n groot hart, ’n aansteeklike glimlag en ’n onbreekbare gees.
Deur Estelle Dansey













