
Dihani Müller skitter met sewe onderskeidings
February 2, 2026
ANCO 4-in-1 ultra-marathon: Kwalifiserende wedloop met gesinsfokus
February 2, 2026Vir personeel om soos ‘n geoliede masjien saam te werk, is dit noodsaaklik dat hulle mekaar beter leer ken, en wat is beter as ‘n dag van outydse boeresport om dit reg te kry. Die bestuur van die Mev. Pres. Steyn-tehuis in Odendaalsrus het besluit om die nuwe werkjaar met ‘n prettige spanbou-geleentheid op Vrydag 13 Februarie af te skop.
Die 32 personeellede ding in twee spanne met mekaar mee. Dit sluit in kruiwa-stoot, eierloop,‘n regte “colour-run” en ander prettige speletjies wat deur Helena Bester van Variety Sport gekoördineer word. Die bejaarde inwoners is die “eregaste” en toeskouers op die “pawiljoen.”
Hierdie geleentheid is inderdaad ‘n spanpoging. Etes word byvoorbeeld reeds die vorige dag voorberei sodat die kombuispersoneel ook kan deelneem. Die vroulike beheerraadslede gaan instaan om die verswakte en bedleënde inwoners te versorg terwyl die speletjies buite aan die gang is.
Maryke Greyling, bestuurder van die tehuis, vra die publiek om die spanboudag met pryse en borgskappe te ondersteun. “Ons wil graag vir die wenspan elkeen ‘n geskenkie gee en ‘n bederfie vir die verloorspan. Die spanbou is vir dieselfde groep mense wat ons bejaardes help versorg. Ons vra die publiek om dit ‘n mooi geleentheid te help maak.”
Maryke kan vir meer inligting by 082 338 1955 gebel word.
(Berig deur Alta Breedt)













