
Amy-Rose van gouties skitter internasionaal
March 4, 2026
Hettie Saaiman se skilderkwas bring internasionaal kleurvreugde
March 4, 2026Klein begin is groot gewin, vertel die gesegde. In Gené Taljaard van Welkom se geval is dit beslis die geval. ‘n Volle sestig kilogram daarvan. Dit vertel ’n storie van vasbyt, selfondersoek en ’n besluit om weer voluit en gesonder te leef.
Gené sê sy het op dag besluit genoeg is genoeg. Haar gewigsverlies was nie ’n kitsoplossing nie, maar ’n reis van klein, daaglikse keuses wat uiteindelik haar lewe verander het.
Sy moedig ander aan om klein te begin. “Dit maak nie saak hoé klein nie. Elke verandering lei tot ’n nuwe leefstyl. Begin met een glas water, een gesonde ete of een oefensessie,” sê sy.
Volgens haar gaan gewigsverlies nie daaroor om alles prys te gee nie, maar oor balans. “Jy kan nogsteeds jou gunstelingkosse eet, maar met matig-heid.”
“Klein veranderinge soos groter bewustheid van wat ek eet, genoeg water drink en ’n aktiewe leefstyl het ’n enorme verskil gemaak,” vertel sy. “Ek het eers opgesien teen oefen, maar nou is dit my veilige hawe. My kop raak stil en ek kan alles in daardie uur vergeet – dan is dit net ek en my liggaam.”
“Die moeilikste deel was om te begin. Jy sien nie dadelik resultate nie, maar sodra jy meer energie het en jou klere losser sit, motiveer dit jou om aan te hou.”
Gené erken dat motivering soms laag is. “Jy is nie alleen nie. Dis belangrik om ’n sterk ondersteuningstelsel te hê vir dae wanneer jy ekstra aan-moediging nodig het.”
Haar ingesteldheid teenoor haar liggaam het ook verander. Waar sy haarself voorheen daagliks gekritiseer het, kies sy nou dankbaarheid.
“Ek is dankbaar vir my liggaam en alles wat dit my deurgedra het. Ek wys dit deur goed vir hom te sorg.”
Deur Estelle Dansey













