
Gené Taljaard: ’n Les in vasbyt ná sy 60kg afskud
March 4, 2026
Daleen Janke appointed as new principal of St Andrew’s School
March 4, 2026Hettie Saaiman se skilderkwas bring internasionaal kleurvreugde
Hettie Saaiman. (Foto: Verskaf)
Hettie Saaiman (72), skilder en oud-skolier van Hentie Cilliers Hoërskool in Virginia, se internasionaal bekende styl versier onder meer verskeie hotelgroepe se kamers. In Mauritius het sy byvoorbeeld 110 unieke werke vir 36 hotelkamers geskep, en ’n Australiese maatskappy het haar twee jaar agtereenvolgens gevra om ’n almanak met haar kuns te versier.
Haar reis het in 2000 begin toe sy na Hawaii verhuis het. Sy was reeds bekend vir haar uitbundige blom-skilderye, maar haar reeks oor tropiese visse het nuwe deure laat oopgaan. Suksesvolle handelskoue in die Verenigde State en Verenigde Koninkryk, asook uitstallings in wêreldstede, het gevolg. Met haar agent se hulp is haar kuns op verskeie gebruiksartikels verewig en wêreld-wyd versprei. Haar unieke tafeldoeke en lappe word spesiaal behandel om nie te vlek of te verbleik nie.
Ná haar vestiging in 2008 in Mauritius het sy met onder meer oud-rugbyspeler Cabous van der Westhuizen kennis gemaak. Sy was op die kruin van internasionale sukses toe ’n onbekende siekte haar lewe in Mauritius tot stilstand geruk het.
“Ek het meer as ’n jaar van my lewe verloor, maar ek het my verhouding met my Skepper gewen,” sê sy.
In 2015 is sy skielik verlam en met Chroniese Inflamatoriese Demiëli-niserende Polineuropatie (CDIP), ’n seldsame outo-immuun siekte, ge-diagnoseer. By Groote Schuur-hospitaal was sy 11 maande lank gekoppel aan long- en hartmasjiene, en kon slegs haar oë beweeg. Kommunikasie het deur ’n alfabetbord plaasgevind.
Haar keerpunt het gekom toe sy hoor dokters oorweeg om die masjiene af te skakel. “Ek het woordeloos tot God geroep vir nog ’n kans.” Kort daarna het haar wysvinger begin beweeg – die begin van haar herstel. Ná ontslag moes sy weer leer loop, maar binne drie maande het sy weer geskilder.
Deur Alta Breedt













