
Welkom’s law enforcers and community protectors honoured
February 2, 2026
Freelancers: Powering the modern economy
February 2, 2026Herkomsnavrae is ’n belangrike diens wat Engo aan aangenome kinders én biologiese ouers bied om mekaar weer te vind en in kontak te bring. Volgens Anke Brönn van Engo in die Vrystaat bring dié proses “genesing, vergifnis en hoop.”
Engo is die grootste liefdadigheidsorganisasie van sy soort in die Vrystaat en bedien jaarliks meer as 200 000 mense in nood. Een van die kerndienste is herkomsnavrae, wat plaasvind wanneer ’n aangenome kind meer oor sy of haar biologiese ouers en agtergrond wil weet, of wanneer ’n biologiese ouer wil uitvind wat van ’n aangenome kind geword het en graag wil herenig.
Familielede van ’n aangenome kind kan ook navrae rig, maar herkomsnavrae met die oog op ’n herontmoeting mag slegs gedoen word indien die aangenome kind ouer as 18 jaar is.
Alle navrae word streng vertroulik deur Engo se maatskaplike werkers hanteer. Voorgeskrewe vraelyste word voltooi en Engo se aannemingsdatabasis word nagegaan. Indien rekords bestaan, word lêers uit die argief verkry en toepaslike agtergrondinligting, waar moontlik, aan die navraer voorsien. Persoonlike en vertroulike gesprekke kan ook gereël word.
Indien ’n herontmoeting versoek word, doen Engo deeglike navorsing om die ander party op te spoor. Die maatskaplike werker tree as fasiliteerder op en maak eers kontak om toestemming te verkry. Daarna word briewe en foto’s via Engo uitgeruil totdat albei partye gereed is vir ’n ontmoeting, wat dan professioneel gereël word.
Navrae kan gerig word aan willie@engo.co.za.
(Berig deur Molly Green)













