
Pensioentrekker se missie is om bejaardes wat swaar kry te help
September 22, 2025
Rosa ‘n onstuitbare vegter teen kanker; blom as sakevrou voor haar oond
September 22, 2025“Ouderdom is in die kop. ‘n Mens moet nie op die stoep gaan sit en wag om dood te gaan nie.” Dié wyse woorde kom van tant Suzie Louw, wat op 95-jaar die oudste inwoner van Huis Ougoud in Welkom is.
Sy is ‘n lewenslustige vrou vir wie geen uitdaging te groot is nie. Sy staan bekend as ’n “bok vir sports.” (Sy het onder meer op ‘n brullende ysterperd geklim tydens ‘n byeenkoms wat ‘n motorfietsklub by die tehuis aangebied het.)
Met haar verstand en geheue skort daar niks, Sy gesels lekker en sy het beslis nie agter die deur gestaan toe ‘n sin vir humor uitgedeel is nie. Dié vietse vrou is ‘n inspirasie vir almal wat haar ken. Sy is ‘n gebore Kapenaar (Robertson).
Haar pa, Danie Fourie, was aan die Gevangenisdiens ver-bonde en die gesin het baie verhuis. “Ons was bevoorreg om in plekke soos Knysna, Paarl, en George te bly. Ons het in Senekal skoolgegaan.”
“Ons was vyf kinders. Net my jongste suster, Dansa (79), leef nog. Sy was die laatlammetjie.” Tant Suzie en haar oorlede man, Sias Louw, was 36 jaar getroud.
Hulle het vier kinders gehad, van wie twee nog leef. “Ek het 12 kleinkinders. Net die oudste en jongste een is dogters. Die res is seuns.” Haar een kleinseun, Gawie Groenewald (43), is haar regterhand. Hy bly in Riebeeckstad en kuier gereeld by haar.
Hy vat haar ook dorp toe wanneer sy inkopies wil gaan doen. “Ek hou nie van mense wat gedurig depressief is en oor alles kla nie. ‘n Mens moet die lewe geniet.”
“Ek was altyd lief vir klavier speel. Nou brei en lees ek graag.” Sy sê: “‘n Mens moet dankbaar wees vir die kleinste dingetjie wat die Here vir jou gee.”













