
Op 95 is tant Suzie Louw ‘n inspi-rasie vir talle mense
September 22, 2025
Wees lief vir jouself – onthou wie jy is in God se oë
September 22, 2025Terminaal siek aan kanker, is dit moontlik dat Rosa Weideman van Welkom baie ferm aan die Doodsengel sal sê as hy aan haar deur klop: “Jammer, nie vandag nie – ek moet eers Maandag twee baksels beskuit en Woensdag drie verjaardagkoeke aflewer.”
Rosa (55) is ‘n uitsonderlike vrou; iemand wat die eretitel van Ystervrou deur en deur verdien.
Toe baarmoederkanker in September 2021 by haar gediagnoseer is, het sy besef dat sy ‘n kopskuif sal moet maak om hierdie geveg te kan wen.
Min het sy toe geweet hoe die siekte haar oor die volgende vier jaar herhaaldelik, op verskillende maniere, sou aanval; daar was ook ander mediese krissise, soos are wat platgeval het en skielike allergieë vir medikasie.
“Sonder my geloof in die Vader se hulp, sy belofte in Ps. 91:11 en my man, Andrè, aan my sy, sou ek lankal boedel oorgegee het, maar met elke groot terugslag is hy dáár om my moed in te praat.”
“My drie kinders en hulle gades is ook my vangmat as die siekte my somtyds omstamp.”
Andrè (58), wat kaste bou en instandhoudingswerk doen, werk nou van die huis af sodat hy altyd naby is om Rosa te ondersteun, ook met haar talle ander bedrywighede, want dié dapper vrou kan nie lê nie, sy moet altyd besig wees.
Toe sy ter wille van fondse in 2023 begin bak het, het sy nooit besef hoe haar besigheid sou uitbrei nie.Sy woon ook gereeld handwerk-klasse by die Red Carpet by, waar die vroue mekaar ook ondersteun, en verder verf sy, maak lapspeelgoed en spoegdoeke.
Het sy ‘n “bucket list”? “O, gaats, nee. Ek leef net elke dag voluit en doen wat ek graag wil en kán doen. Elke dag is ‘n geskenk wat met oorgawe geniet moet word.”













