
Bronville-blits Maputswa vinnigste meisie-atleet (o.12) in die Vrystaat
March 17, 2026
Die “Hekkel-Kekkelgroep” se brei- en hekelpenne praat ‘n hart-taal van omgee
April 2, 2026Berdine Beukes: Kreatiwiteit sonder grense
Berdine Beukes en Gladys Mnici, haar regterhand. (Foto: Estelle Dansey)
World Creativity and Innovation-dag word jaarliks op 21 April gevier. Die doel is om mense wêreldwyd aan te moedig om deur kreatiwiteit persoonlike groei en positiewe verandering in die gemeenskap te bevorder.
Berdine Beukes (64) van Welkom het as 20-jarige die eerste keer ’n naaimasjien aangeskakel – en hom nog nooit weer afgeskakel nie. “Ek stal al meer as 40 jaar by vlooimarkte uit. Om my skeppings te sien, en die glimlagte op ander se gesigte danksy iets wat ek gemaak het, is vir my die lekkerste.”
Berdine maak werklik alles – ’n stukkie lap moet oppas, want sy stik dit binne minute in ’n totaal nuwe skepping. Sy vertel: “Ek het nog altyd die mooi in alles gesien. Wanneer iemand na ’n stoel kyk en dink hy is vodde, sien ek dat hy oorgetrek kan word en so goed soos nuut kan wees.”
“My skeppings is in my oë soos die mensdom – met ’n bietjie liefde en aandag is daar mooi in alles.”
Sy vertel ook dat sy nooit uit idees hardloop nie. “Ek is bevoorreg om konstant aan nuwe idees te kan dink. Ek hou daarvan om oorspronklik te wees. Van donkie-deurstoppers tot matriekafskeidrokke – ek sit alles aanmekaar.”
Haar kreatiwiteit is egter nie beperk tot ’n naald en gare nie. Berdine maak ook verwelkomingsbordjies, koelsakke vir jag, stoele en sommer enigiets wat jou byval.
Op die vraag wat haar aanspoor, antwoord sy: “Ek moet besig bly. Ek geniet mense om my. Elke dag is ’n geleentheid vir my om iemand anders se dag te maak en iets nuuts te skep. Dit is vir my lekker om gesien te word as almal se ma, ouma of tannie, en in ware ouma-styl het my hart altyd plek vir nog ’n skepping – mens of materiaal.”
(Berig deur Estelle Dansey)













