
Berdine Beukes: Kreatiwiteit sonder grense
April 2, 2026
n Dag in die lewe van…..
April 2, 2026Die “Hekkel-Kekkelgroep” se brei- en hekelpenne praat ‘n hart-taal van omgee
Dotty Burger (sittende) en van l-r Susan Randall, Magda Schoonwinkel, Fransie Pardau, Tina Goodchild en Sonja Mathee. (Foto: Petra de Blom)
World Creativity and Innovation-dag word jaarliks op 21 April gevier. Die doel is om mense wêreldwyd aan te moedig om deur kreatiwiteit persoonlike groei en positiewe verandering in die gemeenskap te bevorder.
Dit het 18 jaar gelede begin met reëlings vir ‘n pakkie wat noordwaarts vanuit Welkom moes reis, maar die gesels het eers losgekom toe die hekel- en breinaalde uitgehaal is. Vandag sit ses vroue – hul jongvrou-jare lankal vergete – weekliks bymekaar, waar die wol rol en die stories saamvloei.
“Hier tel ons nie jare nie, net steke,” lag een van hulle. Daar is geen leier nie en geen formele struktuur nie. Tog word tannie Dottie Burger (85) en tannie Tina Goodchild (76) met respek as “stigterslede” beskou.
Elkeen bring haar eie wol en hekelgare en het ruimte vir haar kreatiwiteit. “Saam word dit tasbare omgee,” sê hulle. Raad en hulp, opgebou uit jare se ervaring, word mildelik gedeel wanneer dit nodig is. En soos dit maar gaan, is dit selde “nog net een ry”.
Mettertyd het die groep – wat hulself skertsend die Hekkel-Kekkelgroep noem – ’n sterk netwerk van skenkers opgebou, en geen wol gaan verlore nie. Oorskietwol word liefdadigheid. As wol min raak, koop hulle dit self. Hulle gee sonder verwagting. “Ons brei vir dié wat ons dalk nooit sal ontmoet nie. ’n Kombers is net wol – dit is omgee wat dit warm maak.” Dalk is dit die groep se geheim: elke steek dra ’n bietjie liefde saam.
Maar dit is nie net oor die breiwerk nie. Dit is oor die saamwees. Weekliks word daar gesels soos net tydgenote kan, oor ’n wêreld en herinneringe wat nie almal verstaan nie. Hier word nie net patrone uitgeruil nie, maar ook lewenservaring.
En tussen dit alles deur? Daar word gelag – baie en graag – en diep dinge gepraat. Want soos hulle dit self stel: “Hierdie is nie net ’n groep nie, dit is ’n susterskap.”
(Berig deur Petra de Blom)













