
Die “Hekkel-Kekkelgroep” se brei- en hekelpenne praat ‘n hart-taal van omgee
April 2, 2026
Gabriel Stoltz: From rural roots to global stage and international fame
April 2, 2026Begrafnisondernemer Amadea Rowett
“Ons het soms eienaardige situasies, ja. Ruaan moes op ‘n keer ‘n man gaan haal wat dood verklaar is. Iets het hom gepla en hy druk toe sy vinger in die man se oog om seker te maak. Daar vlieg die “lyk” regop. Hy het met die man hospitaal toe gejaag, en moes die reeds treurende familie laat weet hulle moet hom – springlewendig en gesond – daar gaan haal.” Sò vertel Amadea Rowett van ‘n bekende begrafnisondernemersdiens.
“By ‘n ander begrafnis het twee van die oorledene se seuns al vroeg-vroeg versterkings ingeneem. Toe die dominee sê dat Tant * ‘nie meer hier is nie’, takel die een broer die dominee en die ander een maak die kis oop, net om te skreeu: “Dominee lieg, hier is my ma!”
Amadea vertel sy is al 21 jaar in die bedryf, en dit is haar, haar man, Ruaan, en haar ma, Fay Prinsloo, se passie om treurende families te help om so waardig moontlik afskeid te neem.
“Ons werk eis respek, begrip en deernis. Ons het ’n passie om mense te ondersteun in hul moeilikste tye en help hulle om geliefdes met waardigheid en respek te groet.”
Benewens verpligte papierwerk, berei sy en haar ma vroue voor, Ruaan die mans, en respekteer hulle families se spesiale versoeke. “Ons doen alles in ons vermoë om ’n waardige afskeid te verseker.”
“Ons respekteer kulturele diversiteit. Tydens ‘n tradisionele begrafnis is daar baie rituele en tradisies wat nagekom word. Die familie hanteer self die was van die liggaam, die nagwaak en die bees wat geslag moet word.” Wanneer ‘n liggaam landuit vervoer moet word, doen Ruaan die balseming van die oorskot.
“Ons beroep doen jy nie vir die geld nie. Normale kantoor-ure bestaan nie. Dit is een waarin jy jou hele hart en menswees met deernis vir ander moet belê.”
(Berig deur Alta Breedt)













