
Goudveld Jagtersvereniging se meting getuig van knap skietwerk.
October 7, 2025
Uplift Media News Hosts Heritage Day High Tea In Support of Cancer Awareness.
October 7, 2025Schalk en Cheryl Vorster met sy wentrofee as SA-kampioen. (Foto’s: Verskaf)
Schalk Vorster (50) van Welkom het in Graad 9 (die eertydse Standerd 7) begin om op ‘n ovaalbaan te jaag, en vandag is hy ‘n gerespekteerde naam in die wêreld van ovaalbaan-wedrenne. Hy is, agter die stuur van sy Lexus, as SA-kampioen tydens die Dirt Nationals 2025, wat in Bloemfontein beslis is, gekroon.
Die oud-leerling van HTS Welkom was vroeër ’n lid van die Welkom-klub, maar toe die plaaslike baan agteruitgaan, het hy by die Kroonstad Raceway aangesluit. Hier het hy al verskeie kere klubkampioen geword en Vrystaatkleure in sy sport verwerf.
Sy passie is gebore toe hy as skoolseun die wedrenne by die Welkom-skou gaan kyk het. “Die gogga het gebyt,” vertel hy. Hy en sy pa, Derick, het toe sy eerste motor self gebou. Hy diens vandag nog self die motor waarmee hy deelneem.
Ovaalbaan-wedrenne is veel meer as om net vinnig in die rondte te jaag. Bestuurders moet hul motor se greep meesterlik beheer, gevaarlike draaie baasraak en mededingers strategies verbysteek, veral op los grond waar motors maklik gly. “Dit verg groot geestelike en fisiese krag en kombineer spoed met tegniese vernuf en uithouvermoë,” verduidelik Schalk.
Sy vrou, Cheryl, is sy steunpilaar wat hom agter die skerms motiveer en ondersteun. Sy sê skertsend sy het hom én sy brulgoed 25 jaar gelede getrou.
“Ons was onlangs in Bloemfontein en dit was so, so koud, maar as gesin klop ons harte warm vir Schalk wat hom in sy sport uitleef.”














