
Freddies-hengelklub se jong sterre op pad na SA-byeenkoms
September 22, 2025
Uplift Media News Honours Top Businessmen & Women
September 23, 2025Chevahn Haasbroek. (Foto: Verskaf)
Chevahn Haasbroek, ’n Graad 12-leerder aan Goudveld-Hoërskool, het met 2 goue en 1 silwermedalje tydens die Vrystaat Boogskietproewe ge-skitter. Sy neem in Oktober aan die SA Boogskietkampioenskap in Polokwane deel. Met reeds 31 goue, 19 silwer- en 7 bronsmedaljes op haar kerfstok, word sy tereg as een van SA se top junior boogskuts beskou.
Chevahn, wat op 11 begin skiet het, was ook die eerste wenner van die gesogte Chris van Dalen-wisseltrofee.
“Hierdie jaar verteenwoordig sy die Vrystaat vir die vyfde agtereen-volgende keer,” vertel ma Elize Haasbroek. Op 17 het Chevahn die kursus Basic Archery Instructors (BIA) voltooi en as assistent opgetree. Ná haar 18de verjaarsdag is sy amptelik as BIA gesertifiseer, en sy wil nou ook die kursusse BAIT (Basic Archery Instructor Trainer) en BAITS (Basic Archery Instructor Trainer Specialist) aanpak.
Chevahn het onlangs die tweede rondte van die SA Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters se Rekeningkundige Olimpiade geskryf. Die derde rondte is in haar visier. Haar droom is om ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester te word.
Sy hoop om volgende jaar aan die Noordwes-Universiteit te studeer. In haar vrye tyd oefen sy graag met haar blaaspyl. Musiek is haar passie, veral om klavier te speel. Sy is lid van die Goutie-koor en dien in die koor-bestuur. Sy is 'n ywerige leser en “verslind soveel boeke as wat sy in die hande kan kry,” sê sy. Vir Chevahn is sukses meer as medaljes en sertifikate – dit is ’n manier om haar geloof uit te leef. “Ek glo my prestasies is ’n seën van Jesus. My gunstelingvers, “God is in haar, sy sal nie val nie” (Psalm 46:5), gee my daagliks krag en motivering,” sê dié nederige uitblinker en slimkop.













