
Gabriel Stoltz: From rural roots to global stage and international fame
April 2, 2026
Gouties bring landbou van plaas tot agterplaas met nuwe tegnologie
April 2, 2026Vrystaatse boerseun kies dollars bo emigrasie – maar sy hart bly tuis
Van l-r: Deon en Theresa du Plessis, Marco en Annika Leach met Mine, en Marzelle en Jared Regal. (Foto:Verskaf)
Die idee bestaan dat die Verenigde State van Amerika die moderne land van melk en heuning is, maar vir Deon du Plessis van Riebeeckstad is dit ’n werkbestemming – nie ’n nuwe tuiste nie.
Op 56 het hy pas vir sy derde seisoen teruggekeer om op plase in Amerika te werk. As die oudste werker op die plaas, bring hy ook die meeste praktiese kennis, wat hoog in aanvraag is. Hy is verantwoordelik vir besproeiing met hommeltuie en doen herstelwerk aan voertuie en implemente – vaardighede wat hom onmisbaar maak.
“Dit was bitter moeilik om plaaslik werk te kry om my pensioen aan te vul, daarom het ek die kans aangegryp om in Amerika te werk,” vertel hy. Sy eerste jaar in Marvell was uitdagend, maar die goeie salaris het hom gemotiveer om deur te druk. Verlede jaar het hy in Vicksburg gewerk, waar hy weer verwelkom is danksy die ervaring wat hy aan boord bring.
Die finansiële voordele kom egter teen ’n prys. “Ons werk lang ure. Gelukkig help daaglikse oproepe teen die verlange,” sê hy. Sy vrou, Theresa, erken dit bly ’n aanpassing aangesien hy elke jaar vir nege maande weg is. “Ons waardeer nou elke oomblik saam,” sê sy. Hy het die geboorte van hul eerste kleinkind, Miné, gemis, maar was betyds terug vir ander belangrike familiegeleenthede.
Ondanks die goeie inkomste, is emigrasie nie deel van sy toekomsplanne nie. “Die mense en kultuur verskil te veel. Hulle lag as ek by ’n vuurtjie braai – hulle gebruik net gas. Maar dié jaar leer ek hulle biltong en boerewors,” sê hy met ’n glimlag.
(Berig deur Alta Breedt)













