
Vrystaatse boerseun kies dollars bo emigrasie – maar sy hart bly tuis
April 2, 2026
‘n Boom val in die Goudveld: Huldeblyk aan dr. Johan van Wyk
April 2, 2026Gouties bring landbou van plaas tot agterplaas met nuwe tegnologie
So leer ons vir voedselsekerheid. Diè groep Gouties het ook meer oor hidroponiese landbou geleer. (Foto: Verskaf)
’n Nuwe hidroponiese projek by Goudveld-Hoërskool in Welkom bied leerders nie net praktiese landbou-ervaring nie, maar dra ook by tot groter voedselsekerheid in die gemeenskap. Die skool het besluit om hidroponika deel van sy landbou-opleiding te maak omdat dit ’n intensiewe boerderymetode is wat in klein ruimtes hoë opbrengste kan lewer, sê Lize-Mari, onderwyseres vir landbou.
“Met hidroponika kan gewasse in ’n beheerde omgewing gekweek word waar faktore soos weerstoestande uitgeskakel word. Dit help plante om optimaal te groei en produseer. Die leerders leer ook waardevolle verantwoordelikheid, aangesien die stelsels daaglikse aandag vereis – van water aanvul en voedingstowwe toevoeg tot die monitering van plante.”
“Leerders en onderwysers gebruik diè nuwe stelsel om gewasse soos blaarslaai, kruie en aarbeie te kweek. Sodra die produkte gereed is om te oes, verpak en verkoop die leerders dit self. Op dié manier word hulle aan elke stap van die produksieproses blootgestel – van plant en versorging tot bemarking.”
Volgens Lize-Marie het leerders tydens die opleiding, aangebied deur Turf-Ag, ook kennis met ander moderne akwatiese boerderymetodes soos akwaponika en aëroponika gemaak. Hierdie tegnieke leer hulle dat vars groente selfs op klein oppervlaktes geproduseer kan word.
Dit is duidelik dat die Gouties die aanleer van diè nuwe tegnologiese vaardighede met oorgawe geniet het. “Sommiges het reeds hul eie klein hidroponiese stelsels by die huis gebou en produseer nou hul eie groente.”
“Die jeug speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van volhoubare landbou. Nuwe tegnologie maak dit moontlik om voedsel nader aan dorpe en stede te produseer, selfs waar landbougrond beperk is.”
“Projekte soos hierdie kan uiteindelik uitbrei tot groter groenteproduksiestelsels wat vars en gesonde produkte aan die plaaslike gemeenskap kan voorsien. Dit kan ook nuwe geleenthede vir klein markte en besighede skep, terwyl dit help om volhoubare voedselproduksie vir ’n groeiende bevolking te verseker.”
(Berig deur Petra de Blom)













