
’n Pa se hart en verlange na sy “prinses” oor twee kontinente heen
March 4, 2026
Two Years of Uplifting Our Community
March 4, 2026’n Hewige allergiese reaksie op ’n bestanddeel in medikasie wat tydens ’n roetine-oogprosedure gebruik is, het byna Jacques Greyling (43) van Welkom se lewe geëis.
Hy was inteendeel 45 minute lank as klinies dood verklaar – en het nà herstel bykans al sy sig verloor.
Jacques is wonder bo wonder ná ‘n driekwartuur bygebring – maar sy lewe het onherroeplik verander. Hy moes van vooraf leer loop, praat en eet.
Die onverwagte verlies van bykans al sy sig was ‘n verpletterende terugslag. “Ek sien hoofsaaklik sil-hoeëtte. Ek sien beelde wat lyk of jy deur ’n glasvenster kyk. Ek kan die vorm sien, maar alles is waserig.”
Met vasberadenheid wat sterker is as sy verlies, kies hy elke dag die afgelope 10 jaar, om bó sy omstandighede uit te styg. “Alhoewel ek hulp met bestuur nodig het, laat ek nie my sigverlies my lewe beheer nie. “Ek doen steeds byna alles vir myself. Op moeilike dae onthou ek my gemoed raak ander, dan tel ek my kop op en gaan aan.”
Jacques voeg by: “Ek wil nie hê mense moet my anders hanteer nie. Ek is steeds ek; ek is steeds hier.”
“Ek is baie bevoorreg om in die posisie te wees om my ouers daagliks by my te kan hê, en nog meer geseënd dat ek my lewensmaat, Jaco, in my lewe het.”
“Saam met hom kan ek myself wees. Hy weet wanneer ek dalk ‘n bietjie sukkel – dan is hy letterlik en figuurlik langs my om my te ondersteun.”
“Ek het geleer jy kan beplan, maar die dag van môre is nie verseker nie. My enigste doelwit is om elke dag voluit te leef, teenwoordig te wees, en my liefde met my mense te deel.”
Deur Estelle Dansey













